3rd September 2011
O Vrek! Dis vier-trek met lae strek!
Ons het Donderdag (1 Sep) en Vrydag (2 Sep) ons pad aangedurf en hier is 'n verslaggie:
Donderdag: Moes met 'n 2-trek bakkie met 'n ewenaarslot afgaan om ons 4-trek bakkie wat in was vir herstelwerk in Humansdorp te gaan haal.
By Smitskraal het ons toe 'n eerste swempie geniet tydens 'n twee-uur lange poging om tussen die klippe uit te kom in Smitskraal se drif. Lekker weggesak. Pieter was pootjies eerste en pensie later, in die water doenig om ons daar uit te werk. Ons moes die verwarmer in die voertuig aansit vir hom om weer mens te word daarna!
Vrydag: Teruggekom met ons 4-trek voertuig en geen probleme ervaar nie.
Padtoestand. Groot dele van die pad is geskraap. Die padoppervlakte is wonderlik, dit voel soos 'n nuwe geboorte! Die blomme is oorweldigend in die berg en die terugrit was werklik 'n reuse plesier.
BAIE BAIE DANKIE aan Pierre Joubert en Chris Lamprecht se spanne wat tans 'n uitstekende poging aanwend op hierdie pad. Dis ongelooflik om te dink dat die westelike gedeelte van die pad nou vir die eerste keer in sowat twintigjaar geskraap word! Van Patensie tot op Zandvlakte ry die pad soos 'n droom!
Die driwwe is ook nie meer so diep nie - ook nie by Smitskraal nie, en was dit nie vir die los klippe wat daar 'n probleem is nie, kan 'n gewone voertuig met 'n ewenaarslot baie maklik die pad ry. Tans is dit egter nog glad nie 'n goeie idee nie. Smitskraal vereis vier-trek met lae-strek! ( Four-by-four with low range is still a must at Smitskraal for now)
Die enigste rerige ongemaklike ander plek is by Akkerdal waar die pad nou die rivierbedding geword het. Die rivier se dinamika het sodanig verander daar dat die oplossing nie so maklik blyk te wees nie. Weereens nie diep water nie, solank die bestuurder stadig ry en die gedoente versigtig benader.
Andersins was die pad 'n reuse plesier!!!!! Die blomme is asemrowend mooi.
Die Erikas begin nou oopmaak op Bergplaas en die verskeidenheid ander blomme slaan werklik die asem weg.
Magriet Kruger - Sandvlakte Guest Farm